Hierdie keldervertrek, oorspronklik bekend as die “Grot van Abdullah” onder die kinders, is geskiedkundig gesproke, die belangrikste vertrek in die Klipkerkgebou.  Hierdie kelder is die bakermat van die onderwys in Heidelberg.  Uit hierdie vertrek het ontstaan die Laer Volkskool (1903), die destydse Heidelbergse Onderwyskollege (1909) en ook die Hoër Volkskool  (1915) waarvan die drie koshuise, Transvalia (dogters), Concordia (seuns) en Excelsior (seuns) tot 1959 aan die kerk behoort het.

 

 

Die kelder het na die Anglo-Boere Oorlog tot met 1907 as ‘n klaskamer vir die oorlogswesies gedien.  Daarna is dit as ‘n stoorplek, ‘n museum vir Dr. A.G. Visser en ‘n tydlank as ‘n koffiekroeg vir die jeug gebruik.  Dit was ook die eerste vergaderplek van Aksie Jubilatum.  Die Keldervertrek is netjies opgeknap en ingerig en word tans gebruik as ‘n moederskamer op Sondae en gedurende die week as vergaderplek vir o.a. die naaldwerkklas en die Mascindedane Skool vir Gestremdes.