‘klein-kelkies-by-die-nagmaal’

In April 1925 word klein bekertjies vir die eerste keer by die nagmaal gebruik.  Hierdie was ‘n omstrede besluit en ouderling, J. Kilian, was so ontstoke dat hy sy lidmaatskap van die N.G. Kerk opgesê het.  Hy is wel jare later uit die Klipkerk begrawe.

‘n Sekere suster Bezuidenhout het ook ‘n ernstige probleem met die kelkies gehad.  Sy was ‘n waardige en diep gelowige dame wat haar godsdiens baie ernstig opgeneem het en die eredienste gereeld en getrou bygewoon het.  Sy kon egter later jare nie meer so goed sien nie en na die eerste gebruik van die kelkies, het sy haar baie verontwaardig na die konsistorie gehaas en aangedring om met die leraar te praat.  Toe die dominee vra waarom sy so ontstel was, het sy teen die gebruik van die kelkies uitgevaar en gesê: “Toe dominee aandui dat ons die wyn moet gebruik, het ek my hand na die kelkie uitgesteek om dit te neem, maar ek kon nie mooi sien nie en het my vinger in die wyn gedruk.  Dis ‘n skande wat my oorgekom het, want ek het my vinger in Christus se bloed gedruk.  Dominee, hierdie kelkieding is ‘n onding!”  Sy het blykbaar net soos die Rooms Katolieke geglo dat die wyn werklik in die bloed van Jesus verander.  Die dominee het toe aanbeveel en toestemming verleen dat sy voortaan die groot beker mag gebruik.


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui