‘volhard-in-die-gebed’

In die ou dae, veral tydens die bediening van Ds. P.J. Viljoen het die leraars, en sekere ouderlinge ook, besonder lank gebid.  Dit was asof die opregtheid en kwaliteit van ‘n gebed geskat was aan die lengte daarvan.  Ook moes die mans en die seuns staan as daar gebid word.  Die stille persoonlike gebed van menige manlike person was dikwels: hou, bene, hou!

Daar was destyds ‘n sekere ouderling, Van Niekerk, wat so lekker kon bid.  Een oggend moes Ds. Henno Cronje die diens lei.  Na al die nodige sake in die konsistorie afgehandel is, staan die kerkraadslede op om in die kerk te stap.  Soos gebruiklik moet een van die ouderlinge die seën vra.  Ds. Henno trap in die slaggat en vra ouderling Van Niekerk om voor te gaan in die gebed.  En ouderling Van Niekerk bid en bid en bid…en bid, soos dit maar altyd sy gebruik was.

Die gemeente begin naderhand nuuskierig en bekommerd in die banke rondskuif, want die leraar en die kerkraad kom net nie te voorskyn nie; wat gaan tog nou in die konsistorie aan? 

Ds. Henno het daardie oggend laat begin preek en sy manne in die toekoms versigtig uitgesoek wannner iemand gevra is om te bid!

Danie Martins


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui